Om regstellings te voltooi nadat ‘n oudit plaasgevind het, is belangrik aangesien dit as bewys dien dat die plaas of pakhuis gemotiveerd is om verbetering in hul bestuurstelsels te implementeer. Die doel van ‘n oudit is nie slegs om bevindinge te identifiseer nie, maar eerder om areas in die besigheid uit te lig waar verbetering gedryf kan word om sodoende risiko te verlaag vir beide die produsent en die koper. Vir hierdie rede is dit belangrik dat besighede die nodige regstellings so gou as moontlik afhandel en implementeer na afloop van die oudit. Daar moet verkieslik nie gewag word met regstellings tot die sperdatum opduik voor die regstellings opgelaai en ingedien word nie. SIZA beveel aan dat produsente eerder so gou as moontlik aan hulle kopers bewys dat hulle die nodige aanpassings gemaak het.
Suid Afrika is daarop gefokus om transformasie doelwitte, asook die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (SDG goals) te ondersteun en te bereik. Daarom is die beginsel van verbetering en regstellings net so belangrik in die landboubedryf. Om hierdie verpligtinge na te kom, is dit noodsaaklik dat aanpassings en verbetering geïmplementeer word as bewys van nakoming aan hierdie vereistes. Sommige vereistes is daar gestel deur globale kopers, aangesien hulle self moet verseker dat hulle waarde- en voorsienings kettings nie ‘n risiko inhou vir hulle eie nakomings doelwitte nie.
Die SIZA-program is gebou op die beginsel dat indien regstellings nie in die gegewe tydperk afgehandel word nie, die voorgestelde geldigheidstydperk van ‘n oudit verander en dus verkort word. Indien regstellings nie binne die ooreengekome sperdatums wat tussen die ouditeur en die produsent ooreengekom is opgelaai en afgeteken word nie, sal die voorgestelde oudit periode dus verander. Gevolglik, ongeag die aanvanklike risiko-gradering (Platinum, Goud of Silwer), sal die sertifikaat slegs vir een jaar of een seisoen geldig bly. Die oudit is slegs die eerste stap en die daaropvolgende regstellings is die belangrikste deel van die ouditproses.
Indien ‘n produsent hulp benodig met hul regstellings na ‘n oudit, het hulle ook die opsie om gebruik te maak van die Remedy Solution-program wat SIZA op die MySIZA platform aanbied. Hierdie program bied toegang tot die kontakbesonderhede van kundiges in spesifieke velde wat verband hou met die onderskeie bevindingskategoriee. Hierdie organisasies word vooraf ge-evalueer en goedgekeur gebaseer op hul kennis en vermoë om wel produsente by te staan. Produsente kan dan besluit of hulle hierdie maatskappye of individue wil gebruik onafhanklik van SIZA en die oudit proses.
Indien daar enige verdere navrae is, kontak gerus die SIZA kantoor by 021 852 8184 of stuur ‘n e-pos aan info@siza.co.za.