Die water wat ons drink, die kos wat ons eet, die lug wat ons inasem, die grond waarop ons woon en leef, die berge wat ons klim en die see waarin ons swem — hierdie dinge (onder andere) vorm deel van die omgewing waarin ons as mense en miljoene ander spesies op aarde leef. Aangesien ons spesie aan die bopunt van die voedselketting is, het ons ‘n geweldige impak op die omgewing en ‘n groot verantwoordelikheid om seker te maak dat dit vir alle lewende dinge op hierdie planeet behou word. Elke individu, organisasie, sakesektor en regering het ‘n keuse om te maak en ‘n rol om te speel om die omgewing te bewaar, maar positiewe verandering kan slegs bewerkstellig en volhoubaar wees as almal saamwerk. Daar kan ook aangevoer word dat ondernemings met ‘n omgewings-volhoubaarheidsvisie nie net sal bydra tot die bewaring van natuurlike hulpbronne nie, maar dat dit ook sal bydra tot die ekonomiese pilaar van volhoubaarheid, koste besparings sal meebring en tot ekonomiese welvaart sal lei.
SIZA se Rol
Benewens ‘n reeds gevestigde etiese (sosiale) standaard, sluit die Sustainability Initiative of South Africa (SIZA)-program ook ‘n omvattende omgewingstandaard wat reeds wereldwyd aanvaar word in vir produsente in die landbousektor. Die SIZA-omgewingsstandaard is ontwikkel in samewerking met die Wêreldfonds vir Natuur, Suid-Afrika (WWF-SA) en is daarop gemik om Suid-Afrikaanse produsente te help om aan die vereistes te voldoen, en terselfdertyd die verantwoordelike bestuur van die omgewing te bevorder.
Waarom ‘n eie Omgewingsstandaard vir Suid Arika?
Om ‘n produsent in die Suid-Afrikaanse landbousektor te wees, gaan hand in hand tesame met unieke en eiesoortige omstandighede. Gevolglik is die SIZA-standaarde ontwikkel om hierdie omstandighede in ag te neem en om Suid-Afrikaanse produsente te ondersteun om voldoening op ‘n praktiese en toepaslike manier te bereik. Daarom is die SIZA-omgewingsstandaard gegrond in die Suid-Afrikaanse omgewingswetgewing, terwyl dit ook uitbrei op risikogebiede wat veral belangrik is vir spesifieke Suid-Afrikaanse omstandighede. Om die doel van van verantwoordelike omgewingsbestuur verder te bevorder en om te verseker dat Suid-Afrikaanse produsente op die voorfront van omgewings-tendense bly, sluit die SIZA-omgewingsstandaard ook die implementering van wêreldwyd-erkende landboupraktyke en vereistes in.
Fokuspunte
Die SIZA-omgewingsprogram fokus op die volhoubare bestuur van die vier hoekstene van die omgewing, naamlik grond; water; energie, materiale en afval; sowel as biodiversiteit en ekosisteme. Die hoofdoelstellings van die program is om die doeltreffendheid van insette te verbeter en omgewingsrisiko’s op plaas- en pakhuisvlak te bestuur en te verminder. Vereistes wissel van praktyke om die besoedeling en agteruitgang van die omgewing te voorkom, om die doeltreffendheid waarmee nie-hernubare hulpbronne soos water en energie gebruik word te meet en te monitor, en om te verseker dat biodiversiteit en ekosisteme in die toekoms bewaar word. Die standaard is in so ‘n manier gestruktureer dat produsente ‘n beginpunt (basislyn) kan vestig op hul reis na omgewingsvolhoubaarheid, en om SMART (spesifieke, meetbare, bereikbare [achievable], realistiese en tyd-gekoppelde) teikens te stel om vordering en effektiwiteit te monitor en voortdurende verbetering te bewerkstellig.
Die Ouditproses
‘n SIZA-omgewingsoudit is nie ‘n “slaag” of “druip” oefening nie, maar eerder ‘n maatstaf vir produsente om hul nakoming tot Suid-Afrikaanse omgewingswette en wêreldwyd-erkende landboupraktyke te meet. SIZA volg ‘n derdeparty-ouditbenadering waardeur omgewingsoudits deur internasionaal-erkende onafhanklike oudit-entiteite uitgevoer word om te verseker dat die program deurgaans geloofwaardig en deursigtig is. Met die doel om duplisering uit te skakel, ‘n koste-en tyd-effektiewe benadering te bestuur en beter deursigtigheid aan belanghebbendes op ‘n wêreldwye skaal te bied, kan die SIZA-omgewingsoudit óf as ‘n alleenstaande óf ‘n gekombineerde oudit saam met die GLOBALG.A.P. Integrated Farm Assurance (IFA) standaard uitgevoer word. Alhoewel die onderskeie oudits gelyktydig kan plaasvind, word twee afsonderlike en omvattende verslae uitgereik, en die SIZA-omgewingsouditverslag sal op die MySIZA-aanlynplatform gelaai word om te verseker dat alle relevante belanghebbendes sigbaarheid tot die uitslae het. Vir kopers se gemak sal data ook op die GLOBALG.A.P. platform vertoon word. Waarom twee ouditverslae? Om te verseker dat produsente wat aan meer as een mark lewer slegs een oudit hoef te voltooi wat deur verskeie markte aanvaar sal word. Om voortdurende verbetering te dryf, word regstellings op alle nie-nakoming benodig en die oudit geldigheidstydperk word gekoppel aan die risiko-gradering. Daarom word produsente met ‘n hoër vlak van voldoening beloon met ‘n 2- of 3-jaar ouditgeldigheid. Vir meer inligting oor die proses, volg asb die onderstaande skakel: https://www.globalgap.org/uk_en/for-producers/globalg.a.p.-add-on/index.html#
Die SIZA Benadering
SIZA fokus baie sterk op betrokkenheid en ondersteuning. Ons ondersteun nie net produsente om nakoming na te streef nie, maar ons sorg ook dat die risiko’s vir kopers so laag as moontlik is. Dit word bereik deur toegewyde ouditoorsig te implementeer en streng bevoegdheidsvereistes vir die SIZA-goedgekeurde derdeparty-ouditeure en oudit-entiteite af te dwing. Met die fokus op voortdurende verbetering, doen SIZA tussen-ouditmonitering deur die voltooiing van jaarlikse selfassesseringsvraelyste (SAQ’s) en plaasbesoeke om te verseker dat nakoming ná die oudit gehandhaaf word. Kopers met gekoppelde sigbaarheid tot produsente se profiele kan ook toegang kry tot geloofwaardige risikoverslae oor hul produsente se oudit- en SAQ-data via die MySIZA-aanlynplatform wat geprofileer is volgens nie-nakoming, beste praktyke en risiko’s. SIZA bied ook n tweedeparty verifiering wat baie sterk gefokus is om voortdurende verbetering na te streef.
Kapasiteitsbou en Opkomende Produsente
Bewusmaking en kapasiteitsbou is nog ‘n manier waarop SIZA fokus om die groei van omgewings-verantwoordelikheid in Suid-Afrika te bestuur. SIZA het nog altyd ons lede en derdeparty-ouditeure ondersteun deur wetgewing- en voldoeningsopleiding volgens die toepaslike standaarde aan te bied, maar ons het onlangs ons opleidingsmetodes aangepas om interaktiewe webinars in te sluit, wat verseker dat ons kan voortgaan om die nodige ondersteuning te bied en ‘n nóg groter gehoor te bereik. Om bewustheid op grondvlak te verhoog, het SIZA ook ‘n omgewingsvideo (SIZA gee om vir die Omgewing) ontwikkel met die doel om produsente en landbouwerkers te help om meer volhoubaar te leef en te werk. (Om die video te kyk, volg asb die skakel: https://www.youtube.com/watch?v=xxlYH7EErqY.
Boonop bied SIZA ‘n program aan wat opkomende produsente ondersteun om aan wêreldmarkvereistes te voldoen en wat hulle in staat stel om hul vrugte uit te voer. Hierdie produsente ontvang die nodige hulp, opleiding en ondersteuning om oor ‘n drie jaar periode te vorder om sodoende as oudit-gereed beskou te word.
Deur bewusmakingsinisiatiewe, kapasiteitsbouprogramme, plaasbesoeke en die derdeparty-ouditsisteem, moedig SIZA die implementering van beste praktyke aan wat verby die minimum wetlike vereistes strek en die breër gevolge wat ons op die omgewing het, aanspreek. Sodoende kan SIZA verseker dat ons natuurlike omgewing beskerm word en voedselsekuriteit vir die volgende generasies gehandhaaf word.