Met naspeurbaarheid en geloofwaardigheid as die hoogste prioriteit, maak die MySIZA-platform dit moontlik om belangrike inligting tussen produsente, kopers, bedryfsorganisasies en ouditeure te deel. Benewens die sigbaarheid en naspeurbaarheid van die platform, laat MySIZA ook belanghebbendes toe om aktief aanlyn met hul verskaffers te skakel. Deur gebruik te maak van wêreldgehalte-sagteware maak MySIZA onder meer voorsiening vir:
- SIZA-admin om met produsente te kommunikeer en die ouditproses te vereenvoudig;
- Markte en relevante belanghebbendes om hulle risikos effektief te bestuur deur middel van risikoverslae; en
- om beter ingeligte besluite te neem.
Met hierdie nuwe funksionaliteit neem SIZA die MySIZA-platform na nuwe hoogtes deur ‘n nuwe gebruikersvriendelike stelsel te ontwikkel, genaamd die Digital Recordkeeping Tool of die Digitale Rekordhoudingsfunksie. Met die implementering van die digitale rekordhoudingsfunksie kan produsente hul maandelikse produksie-insette aanteken deur gebruik te maak van gestandaardiseerde metodes wat hulle in staat sal stel om tendense te ontleed, en ook om hul besigheid se belangrikste sleutel prestasie-aanwysers (KPI’s) beter te monitor. Sleutel prestasie-aanwysers, of KPI’s, is waardes wat illustreer hoe effektief ‘n besigheid sy doelwitte bereik of waarna die besigheid moet strewe. KPI’s is dus meetbare faktore wat gebruik kan word om te bepaal of jou onderneming op koers is en of jy jou doelwitte bereik.
Waarom Digitale Rekordhouding en wie kan dit gebruik?
Die SIZA digitale rekordhoudingsfunksie sal produsente ondersteun om praktyke in perspektief te plaas, aangesien gestandaardiseerde metodes en berekeninge gebruik word. Aangesien SIZA ‘n multi-sektorale landbouprogram is, sal die digitale rekordhoudingsfunksie die produksie (plaas) en verpakking/verwerking (pakhuis) data op afsonderlike kontrolelyste akkommodeer, wat veroorsaak dat produsente slegs data invul wat van toepassing is op hul besigheidsopset. Die digitale rekordhoudingsfunksie word beskikbaar gestel vir alle produsente wat met enige kommoditeite boer. Dit is dus nie nodig om ‘n SIZA-lid te wees om toegang tot hierdie funksie te verkry nie.
Wat is die voordele vir ‘n besigheid wat hierdie funksie gebruik?
Met rekordhouding en doelwitstelling wat die basis vorm vir voortdurende verbetering, sal die gebruik van die digitale rekordhoudingsfunksie produsente ondersteun om hul daaglikse aktiwiteite binne die besigheid te monitor. Hierdie monitering sal op sy beurt die bestuur in staat stel om gebiede te identifiseer waar verbetering nodig is en toepaslike aksies te implementeer om die produktiwiteit van hul besighede te verbeter, wat waarskynlik ook besparing op insetkoste sal meebring. Alhoewel die gebruik van die digitale rekordhoudingsfunksie vrywillig is, kan die bestuur baat by hierdie hulpmiddel, aangesien die funksie nie net die bestuur in staat sal stel om verslae vir aangepaste tydperke te genereer nie, maar ook om die onderneming se prestasie van die een maand na die volgende en selfs oor menigte jare te vergeyk. Data-opname wat deel uitmaak van die SIZA Digitale Rekordhoudingsfunksie sluit in:
- Volumes van die produk wat vervaardig of verwerk word
- Waterverbruik
- Elektrisiteitsverbruik
- Brandstofverbruik
- Gebruik van gewasbeskermingsprodukte of na-oes behandeling
- Afvalproduksie
Hoe kan ek my besigheid se digitale rekorddata gebruik?
Aangesien SIZA poog om duplisering sover moontlik te vermy, bevat die SIZA digitale rekordhoudingsfunksie ook ‘n opsie waar produsente kan versoek dat hul besigheid se koolstofvoetspoor bereken word met behulp van die data wat hulle op MySIZA vasgelê het. Aangesien die meerderheid van die data wat op MySIZA vasgelê word, relevant is vir die berekening van ‘n besigheid se koolstofvoetspoor, sal hierdie ingeboude funksie lede nie net toelaat om hul water-, elektrisiteits-, brandstof-, chemise- en afvalgebruik vir hul huidige produksiesiklus te ontleed en te interpreteer nie, maar dit sal hulle ook in staat stel om hul data deur ‘n onafhanklike kweekhuisgasspesialis soos Confronting Climate Change (CCC) tot ‘n koolstofvoetspoorverslag te laat verwerk.
Is die data wat ek oplaai sigbaar vir kopers?
Aangesien alle data wat op MySIZA versamel word aan die produsent behoort, sal geen data gedeel word sonder die lid se toestemming nie. Markte of kopers kan slegs sigbaarheid op ‘n spesifieke lid se digitale rekordhouding verkry as ‘n formele versoek om sigbaarheid op die MySIZA-platform gestuur is en die lid toestemming verleen het. Daarom is dit belangrik dat lede deeglik oorweeg wie sigbaarheid het tot hul data en wie nie. Dit is ook belangrik om te weet dat die digitale rekordhouding apart van die ouditfunksionaliteit werk. Sigbaarheid op die ouditdata beteken nie noodwendig sigbaarheid op die digitale rekordhouding se data nie.
Hoe en wanneer kan ek begin?
Die ontwikkeling van die Digitale Rekordhoudingsfunksie sal op 21 September voltooi wees en produsente kan dus dan af vir die digitale rekordhoudingsfunksie registreer. As u belangstel om te registreer vir hierdie nuwe hulpmiddel, stuur ‘n e-pos aan Lynn Taute by lynn@siza.co.za. Let daarop dat dit aanbeveel word en baie belangrik is dat produsente wat van hierdie platform gebruik wil maak, ‘n aanlyn opleidingsessie moet bywoon oor die voltooiing van die digitale rekordhulpmiddel voordat hulle hul data amptelik begin invul.
Aangesien dit ‘n wetlike vereiste is dat bestuur rekord hou van sekere gebruike, soos die abstraksie van water, sal die digitale rekordhoudingsfunksie die bestuur help om hul data op te laai in ‘n veilige ruimte waar hulle maklik verslae kan genereer om aan die wet te voldoen en om die effektiwiteit van huidige bestuurspraktyke te interpreteer. Ter voorbereiding van die Wet op Koolstofbelasting 15 van 2019, sal die nuwe funksionaliteit lede ook in staat stel om hul koolstofvrystellings aktief te monitor deur die aktiwiteite of produkte wat bydra tot die lid se koolstofvrystellings, te identifiseer en te ontleed.
As u meer inligting oor bogenoemde benodig, kontak Henko Vlok by henko@siza.co.za.