Die gebruik, berging, en wegdoening van bioafbreekbare industriële afvalwater, dit is afvalwater wat hoofsaaklik organiese afval van industriële/kommersiële aktiwiteite bevat, word geklassifiseer as ‘n Artikel 21(e) en/of 21(g) watergebruikaktiwiteit deur die Nasionale Waterwet 36 van 1998 (NWA). Hierdie watergebruik sluit die wegdoening van afvalwater deur wegdoeningsfasiliteite op die perseel in, soos direkte wegvloeistelsels, franse dreine, putlatrines, septiese- en bewaringstenksisteme, asook die hergebruik van afvalwater vir voordelige doeleindes, soos besproeiing. Dit sluit ook die berging van afvalbevattende water in vir die doel van óf hergebruik óf wegdoening. Die bestuur van bioafbreekbare industriële afvalwater word beheer deur die algemene magtigings gepubliseer in Staatskennisgewing no.665 in Staatskoerant no. 36820, van 6 September 2013.

Aangesien die hoeveelheid en kwaliteit van afvalwater wat op die perseel geproduseer word die eindgebruik sal bepaal, is dit belangrik dat die bestuur verseker dat die stortingsafvalwater op die perseel nie ‘n bedreiging vir die omgewing inhou nie en dat dit deurlopend gemonitor word.