Die produksie van afval in enige industrie is onvermydelik, selfs in landbou, daarom is dit belangrik om bewus te wees van die impak van afval.
Om praktyke te implementeer wat die voetspoor waarvoor jou besigheid verantwoordelik is, te minimaliseer, is belangrik. ‘n Goeie proses om te volg is die praktyk van vermindering, hergebruik en die herwinning van afval.
Die vermindering van afval is die belangrikste. Soos vroeër genoem, is die produksie van afval onvermydelik, maar ons kan na die beste van ons vermoë die omvang van afvalproduksie probeer beperk (voorkoming is beter as wegdoening). Die hergebruik van boord- of wingerd snoeisels, byvoorbeeld ”mulching”, sal nie net die hoeveelheid afval en moontlike produksie van kweekhuisgasse verminder nie, maar sal ook as ‘n goeie praktyk beskou word aangesien “mulching” bydra tot die bevordering van grondgesondheid en waterhouvermoë van grond. Herwinning is ‘n doeltreffende manier om verskillende afvalstrome te bestuur en word ook as ‘n goeie praktyk beskou. Nadat die praktyke van vermindering, hergebruik en herwinning geimplementeer is, moet die res van die afval na ‘n stortingsterrein (munisipaal of privaat) gestuur word. (SIZA Code requirement 3.4: b,g & h – sien asb inligting onder).
Wanneer afval in ‘n privaat stortingsterrein weggedoen word, moet ‘n produsent verseker wees dat hulle aan die versorgingsplig vereistes voldoen.
Versorgingsplig beginsels:
- Terrein moet buite ‘n waterloop geleë wees.
- Terrein moet omhein en gesluit wees en met die relevante veiligheids tekens gemerk wees.
- Terrein moet nie oor ‘n gebied met vlak of opkomende watertafels lê nie.
- Afval moet geen oorlastoestande veroorsaak nie.
- Terrein moet in ‘n voorheen versteurde area geleë wees, nie in natuurlike plantegroei nie.
SIZA Kode vereiste 3.4: Die bestuur van materiaal en afval word gemonitor en in lyn met verminder, hergebruik, herwin beste praktyke.
Maatstaf
1. Daar is dokumente of visuele bewyse van herwinning in plek (bv. dromme vir versameling van papier/karton, plastiek, glas, metaal, olie, vrugteafval). Waar van toepassing, word organiese afval gekomposteer en verwerk vir verdere gebruik.
2. As deel van die afvalbestuursplan word teikens gestel en maatreëls geïmplementeer om afvalproduksie te verminder en hergebruik en herwinning te verhoog.
3. Daar is bewyse van ‘n hergebruik- en herwinningstelsel wat jaarliks hersien en verbeter word.